Liturgie lynnwood Oggend 016/05/08 efese : Ontdek jou eerste liefde en eet van die Boom van die lewe!! Pinksterlied elke keer



Yüklə 1,45 Mb.
səhifə6/6
tarix17.11.2018
ölçüsü1,45 Mb.
#80596
1   2   3   4   5   6

Skriflesing: Op 3:7-13
PREEK
PREEK:
Vincent van Gogh was een van die fenominaalste kunstenaars in die geskiedenis. Na Remband word Van Gogh gereken as die grootste Nederlandse skilder en een van die grootste Post-Impressioniste wie se werk vandag nog moderne kuns beïnvloed.
In Parys onder die invloed van die Impressioniste wat hy ’n obsessie ontwikkel met die betekenis en gevoelswaarde van kleure en hulle op die manier begin gebruik. Daarmee probeer verskillende atmosfeer skep. `Instead of trying to reproduce exactly what I have before my eyes,' he wrote, `I use color more arbitrarily so as to express myself more forcibly'. Hy het blykbaar met ‘n tros gekleurde toutjies in sy sak geloop en as hy iets sou sien wat hy wou skilder, die verskillende kleure langsmekaar gehou om te probeer uitvind watter kombinasies die naaste kom aan die kleur wat hy sien.
Een van sy aangrypendste skilderye is die bekende olieskildery “Kerk in Auvers” van ongeveer ‘n meter by ‘n halwe meter wat geskilder is in die laaste twee maande van sy lewe. Dit is tans in Parys te sien. Die skildery beeld die mooiste plattelandse kerkie uit in geel en blou met die pad wat weerskante om die gebou kronkel. Wat mens tref is dat die kerk geen deure het nie. Die pad het langs die kerk omgeloop , maar daar was geen manier om binne in die kerk te kom nie.
Vincent se persoonlike ervaring was dat die kerk se deure vir hom toe was. Van vroeg af wou hy sy medemens dien en volg hy in die voetspore van sy vader, ‘n Protestantse predikant en begin opleiding vir die bediening. Hy staak dit egter en gaan werk as ‘n leke prediker tussen die brand-arm myners in België. In sy ywer om Jesus te dien gee hy al sy aardsebesittings weg aan die armes. Dit is terwyl hy in Borinage in armoede leef dat hy sy roeping ontvang om deur kuns aan die wêreld vertroosting te bring. Die kerk het hom egter nooit deur hulle voordeur tuis laat voel nie...
Maar sy geestelike angs en depressie raak net vir hom te veel en op 29 Julie 1890 sterf hy aan ‘n self-toegediende koeëlwond.
Christene in Filadelfia het ook ervaar dat hoe die Sinagoge se deure vir hulle toegegaan het en dat hulle nie meer daar welkom is nie. Vir jare het die Christene in die Sinagoge bymekaar gekom, maar nou is hulle uit die sinogage verban en is selfs deur die Jode vervolg. Die deur is vir hulle toegemaak.
Dink jou in as jy in daardie situasie is waar die samelewing en Sinagoge se gelowiges jou verwerp het en jy hoor die volgende: “So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie: Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. (Op 3:7-8)

Julle is dalk nie welkom by die sinagoge nie, en ook nie in die sosiale strukture van die stad nie, maar Ek sluit die deur vir julle oop. Daar is ‘n oop deur na my koninkryk. Julle sal vir altyd toegang kry tot my. Niemand kan die deur weer toemaak nie. Filadefia staan bekend as die ”poort na die ooste”: Maar ek sal die deur oopmaak na my!


Die uitnodiging gaan selfs nog verder, julle kry nie net toegang tot die “tempel”/koninkryk waar Ek heers nie, julle word soos ‘n pilaar van daardie tempel met julle naam daarop! God gaan selfs nog verder: God skryf sy Naam, sy nuwe Naam, Christus en die naam van die nuwe Stad op jou!
Soos ‘n kunstenaar wat sy naam op ‘n kunswerk skryf, word God se naam op jou geskryf. Jy behoort aan Hom. Jy is sy kunswerk. Meer nog... jy is uiters kosbaar!
As jy ‘n eenvoudige kunswerk van Van Gogh of Picasso vat en die naam tekening wegneem is dit waardeloos. Maar hang net ‘n skildery in jou huis met die oorspronklike handtekening van Van Gogh of Picasso daarop, en jy sal weet hier is iets uiters kosbaar.
Kan jy werklik ter harte neem wat die Here vir jou sê? Saam met Smirna is dit die enigste gemeente wat nie ‘n vorm van bestraffing/teregwysing in die brief aan hulle gehad het nie. Daar was net lof en waardering vir die gemeente. Dit gebeur gereeld dat mens iemand hoor sê dat ‘n preek goed was as iemand goeie bestraffing gehoor het: “die dominee het ons weer gelooi vandag”!
Geliefdes, die Here het julle lief. jy is vir Hom uiters kosbaar. Hy sien alles. Wat Hy verwag is nie perfeksionisme nie, maat net ʼn toegewyde hart wat afhanklik van Hom leef.
Kyk net hoe die dinamika in die teks werk: God is die een wat handel. Volg regdeur die teks:

- Die Ware God het die sleutel

- Hy sluit oop

- Hy weet alles

- Hy het die deur oopgesluit

- Hy weet jollery: Grieks) het min krag

- Hy beskik en maak dat die Jode kniel

- Ek het julle(jou, in Grieks) absoluut(in die Grieks) lief

- Ek sal julle (jou, in Grieks) vashou

- Ek kom gou

- Ek sal jou pilaar maak

- Ek sal jou My Naam skryf!...


Kan jy hoor hoe God oor jou voel? Kan jy dit aanvaar? Besef jy sy liefde vir jou en dat Hy jou sal vashou? Hierdie gedeelte se oop insluitende karakter is uiters sterk.
Filadefia se naam is twee keer verander. Die teks vertel juis dat ons nuwe name kry: Die van God, die nuwe Naam van God (Christus) en die naam van die nuwe stad Jerusalem. As jy nou Sy Naam op jou het, moet jy sy Naam waardig wees. Dat jy ook die deure oopmaak elke dag. Dat jy ook insluitend en liefdevol is soos Hy is.
Alexander die Grote het eendag op ‘n soldaat afkom wat aan die slaap geraak het toe hy moes wagstaan: “Vra wat is jou naam?!”. “Alexander, Generaal” antwoord hy. "Nie my naam nie, jou naam, soldaat!", het Alexander gebulder. My naam is “Alexander” Generaal. "Nou tree op soos 'n ‘Alexander’ en bewaak die pos soos 'n Alexander!".
Jesus se kernboodskap was dit die koninkryk nou naby gekom het! Die Deur is nou oop, hier op aarde al. Ons het dit baie sterk verplaas na ‘n koninkryk na die dood.
Brain Mclaren skryf in The Secret Message of Jesus bl 78: Sadly for centuries at a time too many places to count the Christian Religion has downplayed, misconducted or forgotten the secret message of Jesus entirely. Instead of being about the kingdom of God coming to earth, the Christian religion has too often become pre-occupied with abandoning or escaping the earth and going to heaven. Too often its members have forgotten the teachings of Jesus about making peace and turning the other cheek and crossing boundaries to serve people formerly considered Outsiders. We have instead launched or baptised wars, perpetuated racism, and defended the status quo. We betrayed and taught the kingdom of God is available for the elite, beginning with the correct, and the clean, and the powerful. We have been preoccupied with guilt and money, power, and fear, control, and status - not service and love , justice, and mercy , humility, and hope.
Wat ons opdrag is, is om deur die oop deur van die Koninkryk te stap en sy heerskappy te vestig waar ons ook al kom. Ons moet mense oop verwelkom sy nuwe wêreld. Die probleem is egter dat ons die boodskap baie verkerklik het. Jesus praat meer as 100x in sy sy toesprake van die Koninkryk van God, maar net 3 keer van die kerk.
Ons kan sien in die gedeeltes in Openbaring dat die kerk vir Hom belangrik is. Hy is teenwoordig in die gemeentes en hou die sterre in sy regterhand, maar sy doel is om die koninkryk van God te laat kom op aarde.
Die wyse waarop die Koninkryk gestalte kry is deur die oorsteek van grense waarna hy ons genooi het, wat Hy ons gewys het!
Jesus breek deur sosiale grense: Partytjies en etes met dié uitgesluit is, Romeinse ryk se verraaiers, (tollenaars) en ander vreemde uitgeworpe mense soos melaatses, kontak met sekswerker, geestelikversteurdes, ‘n vrou met boeldvloeiing, samaritane, sondaars ensv!!!

Verander jou manier van dink: Die koninkryk is beskikbaar vir almal. Glo die goeie nuus! Die koninkryk van God is vir almal.


As jy deel van koninkryk is vloek jy nie die sondaars nie en veroordeel hulle nie; soos Jesus is ons reaksie: “soos ek haar nie veroordeel nie, veroordeel haar ook nie”. Joh. 3:17 “Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red”!!! As jy deel van koninkryk is, stuur jy nie die sondaars hel toe nie, maar nooi jy hulle om deel van die nuwe wêreld/koninkryk te word deur Christus: vergewe, verwelkom, versoen....nie verwerp nie.
Wie wel word verwerp in koninkryk: Die wat harteloos is, die wat ander uitsny! Die Jode word in twee van die briewe baie herstig veroordeel 2:9 & 3:9. Hulle word selfs die “sinagoge van satan” genoem! Net soos Jesus wat die Farisees en Sadduseërs veroordeel het. Hulle wat ander met allerhande slim strategieë en reëls uitsluit, terwyl die balk in hulle eie oë is! Die enigste wat uitgesluit word is die wat ander uitsluit.
Kyk hoe reageer Jesus elke keer as iemand ander wil uitsluit:

- kinders: nie nader wil laat kom nie; omhels

- vrou op heterdaad in owerspel betrap; vergewe

- vrou met bloedvloeiing: genees

- melaatses: vergewe en genees... ens

- tollenaars en sondaars: eet saam met hulle en bly selfs by hulle oor!


Die beste argument vir die Christendom is Christene: hulle vreugde, hulle sagte oë, hulle onvoorwaardelike liefde, hulle gasvryheid. Maar sterkste argument teen Christendom is ook Christene- wanneer hulle vreugdeloos leef, harde oë het, voorwaardelik liefhet, wanneer hulle self-righteous, hoogheilig, eng en rigied is, dan sterf Christendom duisende dode.
Filadelfia leer ons een van die belangrikste beginsels blom waar jy geplant is. Die Christelike lewe bestaan nie uit wegvlug nie, maar in getrou bly in die omstandighede omdat God getrou is. Dis makliker om Christen te wees tussen Christene as tussen mense wat anders is. Maar jy en ek is gestuurdes van God na die wêreld.
Ons word geroep 24/7 Christene wees. Die algemeenste woord wat die Nuwe Testament gebruik vir ’n Christen is “hagios” – heilig – om anders te wees, om uit te staan. Maw om 24/7 anders te wees. God is “uitermate hagios” soos die teks sê in 3:7, omdat Hy heeltemal anders as mense is. Christene moet nie bang wees om anders te wees - om sagte oë te hê as die wêreld harde oë het, onvoorwaardelike liefde teenoor voorwaardelike liefde...
Die agente van vernuwing is: boere, bestuurders, prokureurs, onderwysers, ingenieurs, dokters, skrywers, filosowe, kunstenaars ens...! Te veel word klem gele op die godsdienstige professionele persone wat sg geroep is. Almal is. Jy is! Om die koninkryk van God te bou waar jy is.
Gebruik jou talente, gawes en tyd as beleggings om God se koninkryk te bou. As dit is om brug te bou, bou! As jy rekenaars bou en sagteware ontwikkel, werk in God se koninkryk. As jy prokureur is wat geregtigheid soek, ontvangsdame wat kantoor gasvry maak..maak daar ‘n stuk koninkryk van God!
Jesus se styl is ook nie so tipies “godsdienstig” nie Kyk hoe werk Jesus in die Koninkryk: hy gebruik gelykenisse, soms daadpreke, buite langs die strand, op berge, onder bome, in huise, by kuierplekke en op straat was die plek waar Hy gewerk het!
SLOT
Hiermee moet ons volhou en daarmee word jy ’n pilaar in sy Koninkryk met die Naam van God, sy nuwe Naam en die naam van die nuwe stad, Jerusalem, op jou. Die naam Jerusalem verwys natuurlik daarheen dat die Koninkryk kom waar jy is. Jy bou deur die krag en gawes van God ’n nuwe stad, nuwe land en ’n nuwe aarde!
Ierse Gebed:
U is die Vrede wat alles vul

U is die Plek waar ek skuil teen onheil

U is die Lig wat skyn in die duister

U is die Ewige Vonk in my hart

U is die Deur die wyd oop staan ​​

U is die Gas wat binne wag

U is die Vreemdeling by die deur

U is die Roep van die armes

U is die Lig, die Waarheid, die Weg

U is my Heer! 


SANG
LB 440:1,2,3,4 Die Here salf ons met sy Gees
Seën:
May the blessing of light be upon you, light on the outside and light on the inside.

With God's sunlight shining on you, may your heart glow with warmth

like a turf fire that welcomes friends and strangers alike.
May the light of the Lord shine from your eyes like a candle in the window,

welcoming the weary traveler.


May the blessing of God's soft rain be on you, falling gently on your head,

refreshing your soul with the sweetness of little flowers newly blooming.


May the strength of the winds of Heaven bless you,

carrying the rain to wash your spirit clean, sparkling after, in the sunlight.


May the blessing of God's earth be on you and as you walk the roads,

may you always have a kind word for those you meet.


May you understand the strength and power of God in a thunderstorm in winter,

the quiet beauty of creation and the calm of a summer sunset.
And may you come to realize that insignificant as you may seem in this great universe, you are an important part of God's plan.

May He watch over you and keep you safe from harm.


AMEN 3 X

Die brief aan die gemeente van Laodisea: Openbaring 3:14-22 ERIC SCHOLTZ
Die sewe briewe wat aan die sewe gemeentes geskryf is, kom wat die vorm van die brief betref grootliks ooreen. Hierdie sewende brief wat aan die gemeente van Laodisea geskryf is, wyk egter in twee opsigte van die standaard vorm af. 1) Die woorde oor Christus in die inleiding van die brief kom nie, soos in die geval van die ander briewe, uit Openbaring 1:12-16 nie. 2) Jesus het niks goed te sê vir die gemeente van Laodisea nie. Waar die standaard vorm van die briewe gewoonlik sterkpunte van ’n bepaalde gemeente insluit, word hier geen sterkpunte genoem nie. Net swakpunte word gelys. En dit wat van hierdie gemeente gesê word, bevat van die sterkste afwysende taal wat ooit in die Nuwe Testament teenoor ’n gemeente gebruik word.

  • Jesus sê vir hulle: “Julle maak my siek.” Ek gaan julle uit my mond spoeg.

  • Jesus sê vir hulle: “Julle is ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en kaal.”

  • En in Openbaring 3:20 word daar ’n beeld van die gemeente aan ons voorgehou, word ’n profielfoto geplaas. Dit is die beeld van Jesus wat voor ’n toe deur staan. Buite. Uitgesluit van die gemeente.

Waar het dinge vir Laodisea verkeerd geloop? Wat het tot hierdie flymskerp woorde van Jesus aanleiding gegee? Ek noem vier moontlikhede.


1) Die verhaal van Laodisea is ’n verhaal oor ’n “mistaken identity”. Dit is ’n verhaal oor ’n gemeente wat hom heeltemal met sy identiteit misreken het. Volgens Open.3:17 het hierdie gemeente van homself gesê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie.” Terwyl die beeld wat Jesus van die gemeente het, is dat hulle ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en kaal is. Hoe het die gemeente aan so ’n skewe selfbeeld gekom? Dit lyk asof hulle ’n verkeerde maatstaf gebruik het om hulself aan te meet. Hulle het hulself aan hul voorspoed gemeet! “Ons is ryk,” het hulle gesê. Sommige verklaarders reken dat hierdie voorspoed dalk selfs ’n rykdom aan geestelike gawes ingesluit het, soos waarvan ons ook in 1 Kor.12 lees. Die feit is dat hulle ervaring van voorspoed gemaak het dat hulle gedink het hulle is ok, meer as ok. Ons sal later sien dat hul probleem wel met ’n “mistaken identity” verband gehou het.
2) ’n Tweede moontlikheid het met Jesus se woorde in vers 15 & 16 te doen. Die Laodisense was nie koud of warm nie, maar lou. Sommige uitleggers dink dit beteken die gemeente van die Laodisense was nie ongelowig (of koud) nie, maar ook nie toegewyde gelowiges (of warm) nie. As hulle maar koud (of ongelowig) was, sou dit meer aanvaarbaar wees, want dan kon hulle miskien tot bekering kom. Maar nou is hulle lou. Hulle het net ’n bietjie geloof gehad. En dit is baie gevaarlik. Dit is soos om ’n inenting te kry. Die inenting maak jou ’n bietjie siek om te keer dat jy baie siek word. ’n Bietjie geloof, ’n bietjie godsdiens maak jou immuun teen die ware artikel.
Hoewel daar waarheid in hierdie gedagtes is, twyfel ek of Jesus sy woorde so bedoel het. Hy gebruik koud en warm beide in ’n positiewe sin. Ek kan egter nie aan ’n enkele voorbeeld in die Nuwe Testament dink waar Jesus ongeloof goedgepraat het nie.
3) ’n Derde verklaring vir die probleem wat die gemeente van die Laodisense beleef het, gaan ook oor die betekenis van koud en warm en lou. Die betekenis word met behulp van kennis van die geografie van die omgewing van Laodisea ontsluit. Die stad Hërapolis was ongeveer 10km van Laodisea af. By Hiërapolis het ’n warmwaterbron ontspring. (Dit kan vandag nog gesien word. Dié gebied is ’n UNESCO wêrelderfenis terrein.) Die warm water was bekend vir sy medisinale gebruik en waarde.
Die ander nabygeleë stad was Kolosse wat omtrent 16km van Laodisea af was. By Kolosse het ’n koue bergstroom in die Lykos rivier ingeloop. Die koue water van Kolosse was heerlik, verfrissend om te drink.
Die stad Laodisea het nie ’n nabygeleë waterbron gehad nie. Hulle moes water oor ’n groot afstand (omtrent 10km) met ’n akwaduk na die stad herlei. Teen die tyd wat die water in die satd aangekom het, was dit louwarm en nie lekker om te drink nie. Laodisea het dus nie die koue, verfrissende water van Kolosse gehad nie, en ook nie die warm, genesende water van Hiërapolis nie. Die gemeente van Laodisea was nie koud of warm nie. Dit beteken hulle het nie ’n verfrissende of ’n genesende invloed in hul omgewing gehad nie. Hulle was lou. Hulle was dus onbruikbaar.
Dat die gemeente van Laodisea onbruikbaar was, en ook waarom hulle onbruikbaar was, kom in die vierde verklaring mooi na vore. Volgens hierdie vierde verklaring het die koud en warm en lou van vers 15 & 16 niks met die water van die drie genoemde stede te doen nie. Volgens die beeld wat in die teks gebruik word, het koud en warm en lou met iets te doen wat met die mond ingeneem word. Koud en warm is goed om met die mond in te neem, maar lou is nie. Lou word uitgespoeg. Juis omdat koud en warm goed is om met die mond in te neem, kan dit nie na die water van Kolosse en Hiërapolis verwys nie. Die koue water van Kolosse was drinkbaar en baie lekker, maar die water van Hiërapolis was nie. Behalwe dat Hiërapolis se water warm was, het dit ook ’n baie hoë kalk- en mineraalinhoud gehad. (Die neerslae daarvan kan vandag nog teen die rotse van Hiërapolis gesien word.) Nemand sou sy mond aan die water van Hiërapolis sit nie. Koud en warm en lou verwys dus nie na water wat gedrink word nie.
4) Volgens die vierde verklaring verwys koud en warm en lou na maaltydgebruike. Volgens die Nuwe Testamentikus, Craig Koester, kan die struktuur van die gedeelte ons help om dit te verstaan. Hy deel dit soos volg in:
1. Sovereignty: Christ is the faithful witness and ruler of God’s creation.

1. Dining: Christ will spit the lukewarm out of his mouth.

1. Prosperity: They think they are wealthy but are poor, blind, and naked.

2. Prosperity: They are to obtain gold, eye salve, and clothing from Christ.

2. Dining: Christ will eat with those who open the door to him.

2. Sovereignty: Christ’s faithful followers will share a place on Christ’s throne.


Hiervolgens korelleer die tweede verwysing na ’n maaltyd (2. Dining) met die vroeëre verwysing na wat koud en warm en lou (1. Dining) is. Koud en warm en lou het dus ook iets met ’n maaltyd te doen. Maar wat? Dit was destyds blykbaar algemene gebruik in die Romeinse wêreld om wyn te verkoel of te verhit. In warm weersomstandighede is wyn verkoel deur ’n bietjie koue water by te voeg. In koue weersomstandighede is ’n bietjie warm water by die wyn gegooi. Dit is belangrik om raak te sien dat warm en koue wyn dus altyd in kontras met die weersomstandighede, met die omgewing gestaan het. Die gemeente van Laodisea was nie koud of warm nie. Dit beteken hulle het nie in kontras met hul omgewing gestaan nie. Hulle het hulself nie van hul omgewing onderskei nie. Die gemeente van Laodisea was lou. Hulle het die tempratuur van hul omgewing aangeneem. Die gemeente van Laodisea het hul identiteit verloor. Hy het wêreldgelykvormig geword. Daarom was hy nie meer bruikbaar in God se hand nie.
’n Mens hoor dit ook aan hierdie gemeente se vergenoegdheid. Hulle het gesê: “Ons is ryk en het niks meer nodig nie.” Hulle is dood tevrede. Hulle voel heeltemal tuis in hul omgewing. Hulle beleef geen onrus of spanning nie.
Die probleem met die gemeente in Laodisea bring die belangrike vraag oor die verhouding tussen die kerk en die wêreld na vore. Hoe moet ons oor hierdie verhouding dink?
Een van my dosente, prof. Flip Theron, het baie oor dié verhouding nagedink en geskryf. As hy oor die aard van die kerk gepraat het, het hy graag die Nederlandse teoloog, Oepke Noordmans, aangehaal wat die volgende oor die kerk geskryf het: “Die kerk is te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde.” Daarmee het hy bedoel die kerk is nog nie volmaak nie (en pas daarom nog nie in die hemel nie), maar die kerk en die Christen pas ook nie meer gladweg in die wêreld in nie. Die kerk is te laat vir die aarde. In ’n artikel wat Theron oor die kerk in die wêreld geskryf het, haal hy die Engelse skrywer G.K. Chesterton oor die verhouding tussen die Christen en die wêreld aan:

I had often called myself an optimist, to avoid the too evident blasphemy of pessimism, but all the optimism of the age had been false and disheartening for this reason, that it had always been trying to prove that we fit into the world. The Christian optimism is based on the fact that we do not fit into the world… The modern philosopher had told me again and again that I was in the right place, and I had still felt depressed… But I had heard that I was in the wrong place, and my soul sang for joy, like a bird in spring. I knew now why grass had always seemed to me as queer as the green beard of a giant, and why I could feel homesick at home.


Theron het egter nie gedink die kerk en die Christen moet homself eenkant hou in die wêreld nie. Theron het ’n treffende beeld gebruik om die verhouding tussen die kerk en die wêreld te belig. Dit is die beeld van twee boksers in ’n bokskryt.
Die twee boksers wat mekaar in ’n bokskryt konfronteer, doen dit gewoonlik nie omdat hulle vir mekaar kwaad is nie of mekaar se vyande is nie. Hulle kan mekaar selfs na ’n geveg omhels. Net so is die kerk se basiese houding teenoor die wêreld nie een van vyandigheid nie. Die kerk is ’n skepping van God, van dié God wat ook die wêreld liefhet.
Die kerk is egter nie in die wêreld se hoek nie. Die kerk en die wêreld is in twee kampe. Jesus sê mos in die Johannesevangelie: “Die wêreld ken My nie, maar julle ken My.” Dit bring spanning mee. ’n Ongehinderde, rustige, vreedsame saambestaan van kerk en wêreld is net nie moontlik nie.
Die twee boksers in die kryt wil graag betrokke raak by mekaar, hulle wil graag kontak maak en punte aanteken. Hulle kan dit nie doen as hulle uit mekaar se pad bly nie, as die een byvoorbeeld net om die ander dans nie. Hulle kan ook nie regtig kontak maak as hulle mekaar vashou nie. (Julle het seker al gesien hoe twee boksers mekaar vashou, sodat nie een van die twee ’n hou kan inkry nie. Die skeidregter moet hulle dan van mekaar laat weg tree, sodat die geveg kan voortgaan.) Vir twee boksers om kontak te maak, moet hulle so ’n armlengte van mekaar af wees. Daar moet afstand en nabyheid wees. Tussen die kerk en die wêreld moet daar ook afsatnd en nabyheid wees. Die kerk mag nie die wêreld omhels, soos die gemeente van die Laodisense gedoen het nie. Die kerk mag byvoorbeeld nie voorgee dat die wêreld se ideale dieselfde as die kerk se ideale is nie.
Hoe kan die gemeente van Laodisea sy identiteit herwin? Alleen deur die genade van die Here! Jesus nooi hulle uit om van sy gawes te leef. Goud wat deur vuur gelouter is. Dit verwys waarskynlik na geloof wat bereid is om lyding te verduur. Wit klere. In Openbaring 6:9-11 is diegene wat wit klere ontvang hulle wat aan die Woord van God en die getuienis van Jesus Christus vasgehou het. Hulle is betroubare getuies. Dit is ook hoe Jesus homself aan die begin van die teksgedeelte bekendstel, as die geloofwaardige getuie. Dit is belangrik! In al sewe die briewe is daar ’n noue verband tussen hoe Jesus homself aan die begin van die brief bekendstel en die boodskap aan die gemeente. Oogsalf. Hulle oë moet gesond word, sodat hulle beter kan sien en die dinge beter kan onderskei. Hulle moet kan onderskei tussen “voorspoed” en voorspoed.
Uiteindelik moet hulle nie net Jesus se gawes ontvang nie, maar homself. Hy staan voor die deur en Hy klop. As iemand sy stem hoor en die deur oopmaak, kom Hy in en sal Hy saam met hulle maaltyd hou. Om saam met Jesus maaltyd te hou, beteken om Hom te eer, om jou met Hom te vereenselwig, te identifiseer.
Hierdie vraag oor die verhouding tussen die kerk en die wêreld is vir die moderne kerk steeds baie relevant.
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê!
Yüklə 1,45 Mb.

Dostları ilə paylaş:
1   2   3   4   5   6




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©www.genderi.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

    Ana səhifə